top of page

Empower
Growth

plattelander

WIELIE WALIE SE LENTEVIERING MET KREATIEWE KARAKTERS


P.Coetzee

SPRINGBOK - Op 2 November 2024 het die maatjies van Wielie Walie Speelgroep hul skoene vasgemaak en met vreugde die jaarlikse lentestap aangepak – 'n dag wat van pret en sukses oorgeloop het. Die inwoners van Springbok is vooraf uitgenooi om aan die stap deel te neem, en hulle het in hordes opgedaag.


Die klein skoliere, deur hul ouers en ander entoesiastiese deelnemers vergesel, het vanaf die Wimpy se parkeerarea deur die hoofstraat, verby die Springbok Lodge tot by die Klipkerk, gestap. Onder die wakende oog van die plaaslike verkeersbeamptes, het hulle almal veilig gestap. Kinders het soms op hul ouers se skouers gesit, terwyl die praktisyne trots voor geloop het met die speelgroep se banier en 'n voertuig wat vrolike kinderliedjies gespeel het. Selfs honde aan leibande het saamgestap, en Me. Mostert het met haar tuk-tuk, met groot karakters soos Mini Muis, The Grinch en 'n Paashaas gevul, gery wat die parade ekstra kleurvol gemaak het.


Volgens Wielie Walie Speelgroep was daar vanjaar aansienlik meer mense wat saamgestap het, en die atmosfeer was bruisend van energie. Na die stap het die kinders hulself met heerlike worsrolletjies en slushies verfris en 'n waterballon-geveg het gehelp om die hitte af te koel. Daar was ook verkope op die kerkgronde waar die publiek die skool kon ondersteun deur bydraes te maak.


Hierdie jaar het kinders en ouers met kreatiewe kostuums verras. Spiderman en pragtige prinsessies het tussen die deelnemers geloop, en sommige ouers het ook hulself in oulike uitrustings soos tutu's en engeltjies geklee. Die lentestap is altyd 'n hoogtepunt van die jaar waarin die maatjies dit geniet om soos Disney karakters aan te trek en saam met hulle gesinne en praktisyne deur die strate te stap.


Dit is ook deel van die skool se jaarlikse fondsinsameling. Wielie Walie Speelgroep beplan om die jaar met 'n oulike Kerskonsert af te sluit.


Besoek die skool gerus vir inskrywings vir 2025.

9 views0 comments

Comments


bottom of page