P.Coetzee
KAAPSTAD – Die glansryke Toyota Stellenbosch Woordfees se toekenningsaand het op 28 Oktober 2024 by die pragtige Nooitgedacht-wynlandgoed plaasgevind. Tydens hierdie spoggeleentheid is een van ons eie sterre, Miché Van Wyk, as die beste opkomende kunstenaar in toneelspel, vereer.
Miché, oorspronklik van Steinkopf, deel dat die prestasie vir haar groot betekenis het, aangesien sy sedert haar universiteitsdae onverpoosd hard gewerk het en dié erkenning `n bewys is dat haar toewyding, raakgesien word.
Vanjaar se tema, Speel, het Miché geïnspireer om haar hart en siel in haar toneelspel te lê. Sy het haarself daaraan herinner om op haar werk te fokus en alles te gee. Die fees is 'n groot samekoms van verskillende kunstenaars, en Miché vind dit altyd verbasend en opwindend wanneer gesogte kunstenaars haar herken, met haar gesels en saam met haar wil werk. Sy het veral die voorreg gehad om saam met Danneline Ramsden te werk aan hul produksie, Skatkis vol stories. Miché beskryf Danneline as 'n vreugdevolle en inspirerende persoon wat haar baie geleer het oor die Namakwalandse kultuur.
Nog 'n produksie waarvan Miché deel was, is Pampoen-pit se groen gevoel, wat ook die toekenning vir beste kinderproduksie gewen het. Hierdie prestasie is vir haar baie spesiaal, aangesien sy in Desember by die span aangesluit het toe Dean en Bianca Balie nog deel daarvan was. Vir baie kinders was dit hul heel eerste teater-ervaring, en om te sien hoe hul gesiggies die boodskap ontvang, was vir Miché besonders. “Dit was regtig vir my die kersie op die koek,” sê sy.
Buiten haar voortdurende ontwikkeling as aktrise, het Miché vanjaar geleer om fisies en emosioneel na haarself om te sien. Sy prioritiseer rus en probeer nie te veel hooi op haar vurk pak nie. Miché glo ook daaraan om gesond te eet, genoeg water te drink en te keer dat sy haarself uitbrand. Sy is verbasend genoeg nie iemand wat altyd in die kollig wil wees nie.
Vanjaar het Miché baie getoer, wat vir haar die hoogtepunt van die jaar was. Sy het die Noord-Kaap verder verken en na plekke soos Knysna en Johannesburg gereis, en het ook baie skooltoere behartig. Sy vertel dat haar Kaapse familie haar grootste ondersteuners is. Sy noem dat buiten haar ma en ouma mense soos Lee-Ann van Rooi, Ricardo Arendse, Bianca Balie en Dean Balie as diegene wat haar altyd leiding bied en oor haar ontferm.
Miché het onlangs na die Wes-Kaap verhuis en het tyd geneem om in Kaapstad aan te pas en haar voete te vind. Sy het projekte in werking en verskeie gedagtes oor wat sy graag nog wil aanpak, soos 'n produksie saam met Garage Dance Ensemble. Dit is vir haar lekker om saam met haar eie mense iets te doen, waar “hulle almal dieselfde klink.” Dit is ook oudisie-seisoen, en daarmee hou sy haarself nou besig. Alhoewel Namakwaland steeds in haar hart bly, is die Wes-Kaap tans die beste besluit vir haar loopbaan.
(Foto's deur Natalie Gabriels)
Comments