P.Coetzee
SPRINGBOK – Die Daisy Race van 2024 was weereens 'n spektakel om te onthou! As jy dit gemis het, het jy regtig op iets besonders uitgemis. Toeskouers het al vroeg die oggend hul plekke langs die baan ingeneem, en daar was skaars 'n kolletjie vir 'n muis oop.
Op 2 November 2024 het die hekke om 10h00 oopgemaak en die opwinding was tasbaar. Teen 17h00 het die resies na 'n formele opening deur die burgemeester van Nama Khoi Munisipaliteit, amptelik afgeskop. Die gedreun van die motors het die atmosfeer gevul en die kampstoele is uitgepak terwyl almal vir 'n aksiebelaaide dag reggemaak het. Stalletjies met 'n verskeidenheid smullekker kosse het gesorg dat niemand hoef te honger ly nie en plaaslike entrepreneurs het ook lekker besigheid gedoen. Vanjaar se Daisy Race was trots deur Action Ford geborg.
As die laaste resies vir die jaar, het hierdie byeenkoms 'n paar ekstra klasse ingesluit en deelnemers het hul staal gewys. Deelnemers van so ver as Namibië en die Wes-Kaap het saam vir die oorwinning, gespook. Die toeskouers het elke draai en dreun van die motors met gejuig en aanmoediging begroet. Selfs die jongspan het die dag ten volle geniet.
Die kategorieë het verskeie motorsportklasse ingesluit: hotrods, 1660's hooligans, stockrods, 2.1 modifiers, rookies, V8's, en heavy metals. Daar was ook 'n junior ontwikkelingskategorie en 'n pinkstocks-kategorie.
Hier is die wenners in elke kategorie: 2.1 Modifiers: Derde plek vir Riaan van Niekerk, naaswenner Johan du Toit, en Zak Groenewald as kampioen. Stockrods: Hennie Odendaal het derde geëindig, Leané Valentyn was naaswenner en A.J le Roux het koning gekraai. V8-afdeling: Armandt Swart derde, Michael Behnke tweede en Ruch Viljoen as wenner. Junior Ontwikkelings: S.P van den Heever derde, Bian Henning tweede en Pieter le Grange het gewen. Hotrods: Brennon Green derde, Gert Meyer tweede en Cecil Minders het die oorwinning behaal. Heavy Metal: John Coetzee derde, Martin Theron tweede en Drikus van Dyk is as wenner gekroon. 1660's Hooligans: Desmond Ebing derde, Quinton Venter tweede en Arno Hougaard eerste. Pinkstocks: Louise Valentyn derde, Desire Luiters tweede en Elana Pretorius is kampioen.
Die bestuur van die Namakwaland Ovaalbaan sien nou met groot opgewondenheid na volgende jaar se Daisy Race, uit!
Bình luận