P.Coetzee
OKIEP – Roderick Carroll bly Namakwalanders verstom met sy buitengewone talent. Van 'n matrikulant wat deur Okiep se stofstrate geloop het, tot die glansryke verhoë van Stellenbosch, en nou gaan hy selfs in die gewilde sepie Suidooster verskyn!
Hy is 'n ware inspirasie en bewys dat jou oorsprong nie saak maak nie, solank jy hard werk om jou drome te verwesenlik.
Roderick se merkwaardige reis het by die Proscenium Dramakompetisie begin en nou is hy op die punt om op televisie te pronk. Juffrou Franche van Okiep Hoërskool, wat saam met ander rolspelers hierdie pad met hom gestap het, het meer oor sy vordering gedeel.
Hy het in die dramakompetisie deurgedring tot die top 16 en daarna die top 8 behaal. Roderick het ook aan die Suidooster Woordfees saam met 'n HMO-leerder deelgeneem en 'n produksie aangebied. Dit het hom die geleentheid gebied om saam met die bekende mnr. Barnie Mans, te repeteer.
Alhoewel hy nog onseker is oor die rol wat hy in Suidooster gaan vertolk, sal hy binnekort na die Wes-Kaap reis waar repetisies amptelik sal begin. Roderick het ook 'n beurs om volgende jaar drama by Northlink College te studeer, ontvang. Hy sal ook 'n stemopname vir 'n rol by Overklank doen.
Juffrou Franche vertel dat hulle baie goed saamwerk. Sy noem dat Roderick baie selfvertroue het, maar dat beide van hulle van mening is dat mens alles oor en oor moet oefen, totdat dit perfek is.
Alhoewel sy nog net 'n jaar met hom saamwerk, het juffrou Franche reeds vroeg groei by Roderick bespeur. Sy het ook gehelp om Roderick se vermoë om verskillende rolle te vertolk en die hele verhoog te gebruik, te ontwikkel.
Wat vir haar in besonders van Roderick uitstaan, is sy skryfwerk, wat diep raak. Sy woordgebruik en hoe hy sy woorde in rolvertolking oorsit, is asemrowend om te aanskou. In sy skryfwerk spreek hy sosiale kwessies asook alledaagse dinge waarmee mense kan identifiseer, aan.
Juffrou Franche wil Roderick graag met die volgende woorde motiveer: “Hy moet altyd homself wees en nederig bly, veral in hierdie bedryf. Ek wil hom aanmoedig om altyd sy beste te gee en in homself te glo. Hy moet ook nooit vergeet vanwaar hy kom nie.”
Comments