top of page

Empower
Growth

plattelander

PSS SE DAVEON EINDIG DERDE IN NASIONALE RONDTE VAN WOW-SPELFEES


P. Coetzee

SPRINGBOK - Daveon Nöthling, ʼn Graad 1-leerder van PSS, het nie net derde in Suid-Afrika by vanjaar se WOW-spelfees geëindig nie, maar is die enigste leerder in Namakwaland wat hierdie prestasie in sy kategorie behaal het!


WOW-spelfees het vanjaar hul 21ste verjaardag gevier en op 28 September 2024 by die Stellenbosch-kampus die nasionale fees gehou. Ongeveer 520 leerders van 207 skole in agt provinsies het deelgeneem. Leerders van Graad 1 tot 10 het in drie tale meegeding: Afrikaans, Engels en isiXhosa.


Op driejarige ouderdom is Daveon met PANS, ʼn neuro-inflammatoriese siekte, gediagnoseer. Dit het hom met uitdagende sensoriese probleme, wat veroorsaak het dat hy nie Gr.RR en Gr.R kon bywoon nie, gelaat. Sy ouers het met Juffrou Liztha Luttig van PSS vergader, wie ingestem het om hom die nodige ondersteuning te bied. Met haar hulp het Daveon by die skool aangepas en ʼn liefde vir kulturele aktiwiteite soos die WOW-spelfees ontwikkel.


Daveon is ook lief vir krieket en Eisteddfod, waar hy dubbele goud en Cum laude verwerf het. Hy is mal oor lees en neem tot 11 boeke op ʼn slag uit, met ʼn voorliefde vir diere- en feitlike boeke. Hy droom daarvan om sy eie atlas te hê.


Daveon is heel op sy gemak op die verhoog en spel met selfvertroue. Hy raak kompeterend en tel die kinders om te bepaal hoe ver hy in die kompetisie is. Voor sy naam by die nasionale kompetisie geroep is, het hy reeds aangedui dat hy derde gaan wees. Hy het woorde soos “weersomstandighede” en “interessant” met gemak gespel.


Juffrou Joey Swanepoel en juffrou van Niekerk het die leerders met hul lys woorde voorberei. Leerders het eers by die skool meegeding, waar die top leerders vanaf Graad 1 tot Graad 7 gekies is.


Daarna het hulle aan die kringkompetisie deelgeneem en die top leerders aan die distrik rondtes deelgeneem. Die top 4 leerders uit daardie rondte het nasionaal meegeding.


Daveon het ʼn kontantprys, medalje, sertifikaat, balkie, boeke en ʼn sagte speelding (renostertjie) ontvang. Hy het ook sy erekleure by die skool ontvang. Sy ouers, onderwysers, maatjies en familie is baie trots op hom. dr. en mev. Nöthling bedank ook Juffrou Joey Swanepoel vir haar ondersteuning en voorbereiding.

12 views0 comments

Comments


bottom of page