P. Coetzee
OKIEP - Op 27 September 2024 het die gesogte Mej. Tiener en Mej. Namakwaland 2024/2025 skoonheidskompetisie by die Rec Club in Okiep plaasgevind. Hierdie geliefde gebeurtenis was weer eens 'n hoogtepunt van die jaar!
Die aand is deur verskeie rolspelers, insluitend Dennis Coetzee (Programbestuurder), Mostert Begrafnisdienste en Lucinda Raymond moontlik gemaak.
Spesiale gaskunstenaars soos Emile Milford, Keanu Fredericks, Tiffany, Tammy, Timothy en Eddie het die gehoor vermaak. Tiffany en Emile Milford het as programdirekteure opgetree, terwyl DJ Toy die musiek verskaf het. Tiffany het die aand met 'n pragtige gebed geopen en almal hartlik verwelkom.
Die deelnemers het in verskeie kategorieë meegeding, insluitend “Angels vs Devils”, “Living in the Barbie Dream World”, “One Night in Vegas” en Aanddrag. Die pragtige dames het hul beste voetjie voorgesit en baie moeite met hul uitrustings en grimering gedoen.
Daar was duiweltjies met horings en engeltjies met vlerke te sien. Die choreografie was uitstekend, met 'n opwindende dansoptrede deur die modelle. Pragtige Barbie-poppe het hul verskyning in hul beste en pienkste uitrustings gemaak en later die beoordelaars met rooitapyt-waardige rokke verras.
Selfs die huidige Miss Drag SA 2024 het die dames met woorde van motivering toegespreek en die ouers van die deelnemers vir hul ondersteuning bedank. Sy het beklemtoon hoe belangrik dit is dat ouers hul kinders se drome ondersteun.
Die aand is verder met pragtige sangstukke opgekikker en die gehoor het hoendervleis gekry toe Emile en Keanu die legendariese “Tennessee Whiskey” van Teddy Swims (oorspronklik deur George Jones) gesing het. Die vorige Mej. Tiener en Mej. Namakwaland het ook almal wat hulle deur die jaar ondersteun het, bedank.
Alhoewel alle deelnemers pragtig was en elkeen werklik 'n wenner op hul eie manier is, was daar tog dames wat uitgestaan het. Die nuwe gesigte vir Mej. Tiener is as volg: Tweede prinses is Ferdine Van Wyk, naaswenner is Jordan Smith en die nuwe Mej. Tiener 2024/2025 is Quinechia Lewis.
Die wenners vir Mej. Namakwaland is as volg: Tweede prinses is Amber Monagee, eerste prinses is Maczeen Losper en Mej. Namakwaland 2024/2025 is Naslee Cloete.
Die Plattelander wens alle wenners geluk en glo dat hul werksaamhede 'n groot verskil in gemeenskappe sal maak.
Foto’s deur Kokerboom Media verskaf
Comentarios