P.Coetzee
OKIEP – Met die jaar wat vinnig tot 'n einde kom, kan die matriekklas van 2024 met trots terugkyk op die harde werk wat hulle ingesit het. Die talle opofferings, laatnagstudies en ekstra klasse het uiteindelik vrugte afgewerp.
Mnr. Clarke, 'n onderwyser by Okiep Hoërskool, vertel aan die koerant dat die skool uiters trots op die matrieks se 96% slaagsyfer in die derde kwartaal is.
Hoewel die leerders hard gewerk het en die onderwysers leiding verskaf het, glo mnr. Clarke dat die leerders se motivering ook 'n groot rol in hierdie prestasie gespeel het. Dit is vir die skool belangrik om leerders aan te moedig en hulle in hul eie potensiaal en vermoë om uitmuntende punte te behaal, te laat glo.
Elke matriekleerling in die groep van 27 het 'n positiewe houding teenoor hul skoolwerk en selfs wanneer hulle afdwaal, word hulle weer deur onderwysers en klasmaats op die regte pad gehelp.
Die matriekklas van 2024 noem hulself die “Team Ysters,” soos aangedui op hul matriekbaadjies. Volgens mnr. Clarke motiveer hulle die laer grade om ook goed te presteer deur 'n voorbeeld te stel. Leerders van laer grade kyk op na hierdie “Team Ysters.” “Hulle is die matriekklas wat altyd as die klas wat die neigings stel en nie volg nie, onthou sal word.” Die matrieks neem ook graag aan ander skoolaktiwiteite deel, met die hoofseun, Roderick Carroll, wat 'n voorbeeld stel en hoë hoogtes bereik, selfs tot in Stellenbosch!
Leerders het ook ekstra moeite gedoen deur goeie bywoning van ekstra klasse, winterskole en herfskole. Sommige leerders het merkwaardige groei regdeur die jaar getoon. Die top drie presteerders in graad 12 is: Robyn Schmidt en Brent Bugan, wat eerste in hul graad staan. Whaldene Maarman, wat tweede staan en Enrique van der Westhuizen, wat derde is. Hierdie punte weerspieël die leerders se algehele jaarprestasie.
“Die graad 12's van hierdie jaar is 'n besonderse groep,” sê mnr. Clarke. Sedert hy by die skool werk, was die hoogste persentasie wat die skool behaal het 91,03%. In Junie het die matrieks 'n slaagsyfer van 92% behaal en daarom is die onderwysers hoopvol dat die matrieks van vanjaar 'n 100% slaagsyfer in die nasionale eindeksamen kan bereik.
Mnr. Clarke se motivering vir die matrieks van 2024 sluit aan by die skoolhoof se woorde tydens die diplomaplegtigheid: “Life is a series of moments. We must remember to make those moments count. Hulle moet onthou dat die oomblik nou is. Die eindeksamen is die oomblik.”
Comments