P.Coetzee
KATHU – Die Kathu NCR TVET Kollege is gereed om die eksamen, wat op 25 Oktober 2024 amptelik begin het, met nuwe ywer aan te pak. Die gereedheid is te danke aan 'n ruim donasie van tafels en stoele deur Anglo American.
Op 24 Oktober 2024 het Anglo American ongeveer 150 tafels en stoele aan die kampus oorhandig, net betyds voor die aanvang van die eksamen.
Die nuwe meubels sal nie net die kollege se eie studente bevoordeel nie, maar ook diegene van ander akademiese instellings in die omgewing wat die eksamensentrum gebruik. Dit skep 'n gemaklike en bevorderlike omgewing vir almal om hul akademiese doelwitte na te streef.
Die Plattelander het met Thabo Magopa, die bestuurder van die NCR TVET Kathu-kampus, gesels. Hy verduidelik dat die kampus voorheen die klaskamers se tafels en stoele vir eksamens moes gebruik, wat baie ontwrigting veroorsaak het. Studente moes ook in twee afsonderlike sessies skryf om almal te akkommodeer, en die meubels was in 'n haglike toestand.
Mnr. Magopa beskryf die donasie as 'n wonderlike gebaar wat die kampus geweldig sal bevoordeel, veral tydens die eindeksamen. Studente kan nou betyds begin en klaarmaak.
Hy hoop dat die gebaar die studente sal motiveer om goed te presteer. “Elke oggend het julle wakker geword om te kom leer, en nou is dit die tyd om te wys wat julle alles geleer het.
Dit is nou die tyd om positief te dink en sukses te verseker,” aldus Mnr. Magopa.
Comments