NUWE ENKELSNITTE DIE PRODUK VAN PASSIE EN DIVERSITEIT
- plattelander
- Apr 9
- 2 min read
P.Coetzee
NAMAKWALAND – Plaaslike musiektalente van Namakwaland het onlangs saamgespan en daarin geslaag om binne 'n enkele dag twee nuwe liedjies te vervaardig. Hierdie inspirasievolle samewerking tussen Brennan Dirkse, DJ Toy, Brandon Britz en Godwin Cloete (bekend as ChefG) het opwindende resultate opgelewer, wat die plaaslike musieklandskap verryk. Die groep verduidelik dat die liedjies, getiteld “Oorwin” en “Daisy”, gedurende 'n intensiewe werksessie geskep is. Brandon Britz het die lirieke geskryf, met Brennan, DJ Toy en Godwin wat die klankontwerp en tegniese aspekte hanteer het. Hierdie samewerking het tot die vinnige en suksesvolle voltooiing van beide snitte, gelei.
“Oorwin” is op 18 Maart vrygestel en fokus op die motiewe van oorwinning en deursettingsvermoë. Die liedjie dien as 'n bemoedigende boodskap en herinnering dat, ondanks uitdagings, die mensdom oorwin. “Daisy”, op 19 Maart bekendgestel, het 'n vroliker toon en kombineer reggae- en langarm-elemente. Die lied verwys na die Namaqua Daisy en die karakter van vrolike inwoners. Dit is ook aan 'n persoon van Steinkopf, wat onlangs vermis geraak het, opgedra. Die liedjies sal binnekort op gewilde platforms soos YouTube, Spotify en iTunes beskikbaar wees, sodat luisteraars wêreldwyd toegang kan hê. Daarbenewens beoog die span om musiekvideo's te vervaardig om hul kreatiewe visie verder uit te bou. Hul teikengroep sluit alle Afrikaanssprekendes in wat die taal en kultuur waardeer.
Brandon Britz: Sanger en liedjieskrywer met 'n passie vir musiek en optredes. Sy kreatiwiteit strek ook na sy talent vir teken. Brennan Dirkse: Sedert 2016 aktief as DJ, vervaardig Brennan sedert 2018 sy eie musiek. Hy is gedryf deur sy liefde vir musiek en is ook aktief in sport. Godwin Cloete (ChefG): Godwin is 'n multi-talent, van musiekproduksie tot fotografie. Na 'n pouse tydens COVID-19 het sy passie vir musiek herleef, en hy werk tans aan 'n video-reeks om jong plaaslike talent te bevorder. DJ Toy: 'n Ervare klankontwerper wat 'n belangrike rol in die produksie van die liedjies gespeel het.
Die span beklemtoon die noodsaaklikheid van groter ondersteuning aan plaaslike kunstenaars deur instansies en gemeenskappe. Daar word gepleit vir toegang tot toerusting, opleiding in sagteware en die organisering van feeste wat Namakwalandse talent, ten toon stel. Hulle benadruk dat plaaslike ondersteuning onontbeerlik is vir die groei en erkenning van kunstenaars in die streek.
As inspirerende woorde deel die groep die vyf beginsels van Arnold Schwarzenegger: hê 'n visie, reik na die sterre, ignoreer kritiek, werk hard en gee terug.
댓글