P.Coetzee
POFADDER – Die Vedanta Gemeenskap Vaardigheid Sentrum het onlangs sy eerste groep van 55 studente in sweiswerk, administrasie en elektriese vaardighede gegradueer.
Die historiese oomblik het op die aankondiging van 23 Augustus 2023, om die ou Katolieke Skool in Pofadder te restoureer en in 'n sentrum vir vaardigheidsontwikkeling te transformeer, gevolg. Die projek is met 'n luisterryke seremonie onder leiding van Khâi-Ma Munisipaliteit se burgemeester, Me Estella Cloete en Black Mountain se Leer- en Ontwikkelingsbestuurder, Mnr Erich Katzke, bekendgestel. Die opknappingswerk het van Augustus 2023 tot einde Februarie 2024 geduur en op 4 Maart 2024 is die studente verwelkom, met die amptelike opening van die sentrum wat nog voorlê.
Die opleidingsprogram het oor 'n tydperk van ongeveer 55 dae of drie maande gestrek en het studente tussen die ouderdomme van 18 en 55 jaar, akkommodeer. Shanice Franks, die kommunikasiebeampte van Vedanta Zinc International, het beklemtoon dat die Vaardigheid Sentrum 'n integrale deel van hul Maatskaplike- en Arbeidsplan, asook hul “Besigheid met 'n doel” model uitmaak. Die doel is om te verseker dat die gasheergemeenskappe voordeel trek uit die maatskappy se operasionele belegging. Die sentrum streef daarna om studente te bemagtig met die nodige vaardighede om intreevlak werksgeleenthede te bekom en die suksesvolle graduering van die eerste groep studente bevestig dat die myn sy doelwitte kan bereik.
Die gegradueerdes sal hul nuutgevonde vaardighede kan deel met die myn soos geleenthede beskikbaar word. Vedanta Zinc International sien uit daarna om die sentrum te gebruik as 'n werwingspunt vir vaardighede wat benodig word deur Black Mountain, insluitend Gamsberg en die myn se besigheidsvennote.
Die Vedanta Gemeenskap Vaardigheid Sentrum is toegewy aan die indiensneming van individue sonder formele kwalifikasies deur basiese opleiding in verskeie vaardighede te bied, nie net vir die mynbedryf nie, maar ook vir ander sektore. Studente word aangemoedig om voort te gaan om aansoek vir werksgeleenthede binne en buite die myn te doen.
Die sentrum fokus op kort kursusse wat werk-indiensneembaarheid bevorder. Met die voltooiing van hierdie kursusse ontvang studente 'n bevoegdheid sertifikaat, wat aandui dat hulle gekwalifiseerd is om die take wat in die kursusse behandel is, uit te voer. Die myn beoog om oor die volgende vyf jaar ongeveer 5,000 studente op te lei.
Foto's: Sue-Relle Maasdorp
Comments