P.Coetzee
SPRINGBOK – Die son skyn helder en warm, en ons verwelkom die somer met ope arms. Dit is immers die perfekte tyd om buitelugaktiwiteite te geniet.
Daar wag binnekort groot pret vir 'n klein groepie maatjies. Wil jy deel wees van die pret? Sluit dan by die Wielie Walie Speelgroep se lentestap aan of kom geniet heerlike soet en sout by die Klipkerk.
Op 2 November 2024 nooi die Wielie Walie Speelgroep die publiek uit om tydens hul jaarlikse lentestap, saam te stap. Kinders sal in oulike kostuums, vanaf Wimpy se parkeerarea, deur die hoofstraat, verby Springbok Lodge tot by die Klipkerk stap, waar die verkope sal plaasvind. Verkeersbeamptes sal die kindertjies begelei.
Die publiek word hartlik uitgenooi om die verkope te ondersteun en die dag saam met die kinders te geniet. 'n Verskeidenheid lekkernye en kinderspeletjies sal beskikbaar wees.
Verlede jaar het die skool oulike karakters soos feetjies, ballerina's, prinsesse, barbies, dinosourusse en selfs 'n polisieman gesien! Maatjies van die Wielie Walie Speelgroep en belangstellendes is welkom om enige karakter uit te beeld en die dag te geniet.
Die kinders het verlede jaar baie pret gehad terwyl hulle saam met die juffrouens gestap het. Die onderwysers het die staptog met 'n groot banier waarop “Wielie Walie Speelgroep” staan, gelei.
Die lentestap dien as fondsinsameling vir die skool. Die skool sal ook die jaar met 'n oulike Kerskonsert afsluit. Datums hiervoor sal binnekort bekendgemaak word. Ondersteun die Wielie Walie Speelgroep en die ontwikkeling van ons kindertjies.
Comments