P.Coetzee
STEINKOPF – Van 20 tot 26 September 2024 het KopfKids Entertainment na Rustenburg vir die Nasionale rondtes van die South African Championships Of Performing Arts (SACOPA) gereis. Hulle het so uitmuntend presteer dat hulle na die Wêreld Kampioenskappe wat in Los Angeles, Amerika, gehou gaan word, deurgedring het.
KopfKids Entertainment het in die kategorie vir klein sanggroepe (18-24 jaar) deelgeneem. Hulle het Goud in die Pop-afdeling, Silwer in die Oorspronklike-afdeling, Silwer in die Verskeidenheid-afdeling, en Brons in die R&B-afdeling verower.
SACOPA bied 'n platform vir kunstenaars soos sangers, dansers, modelle, instrumentale groepe en akrobatiese kunstenaars (wat 'n nuwe toevoeging tot die kunste is). Verskeie genres word binne die verskillende kategorieë gedek.
Die pryse wat gewen kan word, sluit kontantpryse vir beide mans- en damesafdelings in. Selfs die beste afrigters, wat die meeste inskrywings ingebring het, se vervoerkostes na die wêreldkampioenskappe word gedek.
Junior en senior algehele wenners met die hoogste individuele punte se kostes na die wêreldkampioenskappe sal ook gedek word. Daar is beurse te wen en agente is op die uitkyk vir toekomstige kontrakte.
Wie is die talentvolle kunstenaars wat hierdie groep uitmaak? Kecha Cloete, Jaylin Warne, Joëvin (Joey Joe) Engelbrecht, Nama'Klong 'Enix', Devondre Smit (Woniemusicasa) en Danze Arnolds (Fotograaf).
Die musiekgroep het reeds hul aanhangers hartlik vir hul ondersteuning gedurende die kompetisie bedank. Hul reis na Los Angeles sal eers in 2025 plaasvind.
KopfKids Entertainment se musiek weerspieël die essensie van Afrikaanse liedjies in Namakwalandse streekstaal – 'n unieke en jeugdelike sangstyl wat oral te hoor is. Wat begin het as 'n klein groepie, is besig om in 'n erkende platemaatskappy te groei. Vir donasies of besprekings kan die groep by 076 214 4947 gekontak word.
Comments