top of page

Empower
Growth

plattelander

JONG TALENT BY SPRINGBOK MONKEYNASTIX TOEKENNINGSOGGEND VEREER


P.Coetzee

SPRINGBOK – Leandra Koggelenberg het vanjaar die opwindende wêreld van Monkeynastix na Springbok gebring en die jong maatjies kan nou na 'n pragtige toekenningoggend op 23 November 2024 by Netto's Outdoor Dining and Venue Hire, uitsien. Leandra werk met talle skole in die omgewing en die kinders se ontwikkeling het deur die jaar indrukwekkend gevorder.


Leandra het 'n privaat perseel by Gym 4 Life, waar sy in die oggende klasse vir babas van 1 tot 3 jaar, en ná 12h00 vir kleuters en laerskoolleerders, aanbied. Haar betrokkenheid strek tot by skole soos Springbok Christian Academy (SCA), Noah's Ark en Heidi en Peter in Simonsig. Sy het ook met Wielie Walie Kleuterskool in Bergsig begin, en haar passie het selfs skole so ver as in Baken bereik.


Die toekenningsoggend sal 'n viering van die kinders se vordering deur die jaar wees. SCA se toekenningsseremonie sal by die skool plaasvind, terwyl die res van die leerders en ouers op 23 November by Netto's bymekaar sal kom. Hier sal die kinders hul vaardighede op 'n hindernisbaan demonstreer, gevolg deur die oorhandiging van diplomas en medaljes.


Leandra geniet elke oomblik van haar werk. Sy vertel hoe wonderlik dit is om te sien hoe skaam kinders begin blom en selfvertroue kry. Sy beplan ook 'n demo-dag in Concordia en wil skole in Alexanderbaai en Sendelingsdrift bereik. Met die jaar wat tot 'n einde kom, sal demo-dae weer in Januarie begin en Leandra hoop om na skole uit te reik wat nog nie betrokke is nie.


Monkeynastix Springbok se visie is om uit te brei en soveel moontlik kinders te help ontwikkel. Monkeynastix is 'n pionier in bewegingsopvoeding en hul program kombineer kreatiwiteit en musiek om kinders te leer oor buigsaamheid, balans, krag, behendigheid, koördinasie en liggaamsbewustheid. Daar is ook Babynastix vir baba's tussen 3 en 24 maande en Supernastix vir kinders van 7 tot 12 jaar, elkeen aangepas vir die kinders se spesifieke behoeftes.


Leandra se toewyding en entoesiasme maak 'n merkwaardige verskil in die lewens van die kinders. Vir meer inligting, kontak haar by 084 999 6511.

7 views0 comments

Comments


bottom of page