top of page

Empower
Growth

plattelander

JEUG GENIET NOSTALGIESE SPELETJIESDAG


P.Coetzee

PORT NOLLOTH – Inwoners, meer spesifiek die jeug van Port Nolloth, het onlangs saamgekom om aan inheemse speletjies deel te neem. Hierdie speletjies, waarmee die meeste van ons grootgeword het, het 'n gevoel van nostalgie en groot pret gebring. Die dag was met vriendskaplike kompetisies sonder enige pryse op die spel, gevul.


Op Vrydag, 18 Oktober 2024, het die Richtersveld Inheemse Spele, in samewerking met Radio NFM, 'n heerlike stranddag van inheemse speletjies aangebied.


Volgens Khayalethu Kasta Mkatu, voorsitter van die Richtersveld Inheemse Spele en die Noord-Kaapse Provinsiale Tegniese Beampte, was daar nie genoeg tyd om alle speletjies te aan te bied nie. Daarom het die groep besluit om op Dibeke, die gewildste speletjie, te fokus.


Almal het die dag terdeë geniet en selfs NFM se personeel het by die pret aangesluit. Weens hoë seevlakke kon hulle nie op die strand speel nie, maar het voor die Port Nolloth-apteek bymekaargekom.


Die Richtersveld Inheemse Spele beplan om volgende, as deel van hul werwingsveldtog met die hulp van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, na Alexanderbaai te reis.


Hierdie werwing sluit in om spelers vir die Kho-Kho-span te werf en sterspelers te ontdek. Mans en dames is welkom en geen ervaring is nodig nie. Daar is ook geen ouderdomsbeperking nie en alle belangstellendes word genooi om saam te kom oefen. Kontak Neo by 067 683 1329 of Kasa by 063 249 0716 vir meer inligting.


Gekose spelers sal dan vir die gesogte Kho-Kho Wêreldbeker, as deel van die Suid-Afrikaanse span, meeding. Die Kho-Kho Wêreldbeker sal tussen 13 en 19 Januarie 2025 in Delhi, Indië plaasvind. Kom oefen saam! Wie weet, dalk word jy in die Suid-Afrikaanse span opgeneem.

13 views0 comments

Comments


bottom of page