P.Coetzee
RICHTERSVELD – Die inheemse spele maak 'n triomfantelike terugkeer, nie net as die speletjies wat ons as kinders geniet het nie, maar nou as professionele sportkodes. Die Richtersveld Inheemse Spele is aktief besig om jeugdiges in hierdie unieke sportkodes op te lei.
Volgens Khayalethu Kasta Mkatu, voorsitter van die Richtersveld Inheemse Spele en die Noord-Kaapse Provinsiale Tegniese Beampte, funksioneer hierdie federasie onder die vaandel van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur.
Die verskeidenheid kodes wat onder die inheemse spele val, sluit in: Dibeke, Kho-kho, Intonga, Kgati, Driestokkies, Morabaraba, Incuva, Diketo en Jukskei.
Die volgende toernooi sal eers weer in 2025 plaasvind. Tans fokus die federasie op opleiding en werwing. Registrasie vir die nuwe jaar sluit einde Februarie 2025 en belangstellendes kan Khayalethu kontak by 060 330 3613.
Inwoners van Port Nolloth kan by die oefeninge op Sizamile Sportgronde aansluit, terwyl mense van omliggende dorpe vooraf moet kontak maak.
Oefeninge vind van Maandae tot Vrydae tussen 16:00 en 18:00 plaas en wedstryde word elke Saterdag gespeel. Skole is ook by vier van die kodes betrokke, maar is nog nie geregistreer om aan toernooie deel te neem nie. Die federasie fokus dus tans op gemeenskapsbetrokkenheid.
Khayalethu meld dat hulle vanjaar groot sukses behaal het, met baie kinders wat aangesluit het. Ongeveer 54 jeugdiges het saam na Kuruman vir hul onlangse deelname aan die provinsiale toernooi op 23 September, gereis. Al vyf distrikte was by die toernooi teenwoordig. Daar is in ses kodes meegeding en twee sportkodes het medaljes verower.
Die Kgati-span het 'n silwer medalje gewen en een deelnemer uit die Morabaraba-span het brons verwerf. Nog `n deelnemer uit die Driestokkies-span het ook 'n brons medalje verwerf. Vir Khayalethu is dit indrukwekkend aangesien dit jeugdiges is wat vir die eerste keer aan hierdie sport deelneem.
Daar is vanjaar geen nasionale toernooie gehou nie, maar jeugdiges kan volgende jaar na distrikstoernooie, provinsiale toernooie, nasionale toernooie en selfs internasionale toernooie uitsien.
Comments