top of page

Empower
Growth

plattelander

HULDEBLYK AAN`N MUSIEKLEGENDE


P.Coetzee

NABABEEP – Die musiek- en lewensverhaal van die beroemde langarm- en ballroom-musiekmeester, James Emanuel (Jimmy) Newman, sal op 3 Augustus 2024 met 'n huldeblykkonsert by Springbok Guest Farm gevier word. Die konsert word deur Victor Cloete, Bruce Newman en Jacques Cloete georganiseer. Hulle het voor Jimmy se afsterwe Die Plattelander meer omtrent die merkwaardige man vertel. Jimmy, gebore op 6 November 1941 en oorlede op 25 Mei 2024, was die oom van Bruce.


Alhoewel jonger geslagte hom dalk nie ken nie, onthou baie Namakwalanders hom as die saksifoonspeler met styl wat geweet het hoe om 'n dansvloer lewendig te hou. Jimmy, oorspronklik van Nababeep, het reeds op 17-jarige ouderdom begin langarmmusiek maak en het daardie jaar by die O.C.C. (Okiep Copper Company) begin werk. Hy het later as loodgieter gekwalifiseer en as ketelmaker in Phalaborwa gewerk. Tussendeur het hy die wêreld met sy musiek verower. In 1968 het Jimmy met sy geliefde Ruth Charmaine getrou en hulle het vier kinders naamlik Marcelino, Rave, Randy en Carol gehad.


Jimmy was nie net in Namakwaland bekend nie, maar het ook 'n groot aanhang in Namibië gehad. Volgens Victor het Jimmy tot 'n gerespekteerde musikant gegroei, sonder om hoogmoedig te word. Hy was deel van die Merry Makers en die Nababeep Swingsters en het ongeveer 17 albums, 'n DVD en twee Goue Plate uitgereik. Sy eerste goue plaat was in 1975 vir die album “Jimmy for you”, wat met meer as 25,000 verkope spog.


Victor en Bruce wou Jimmy se bydrae tot die musiekbedryf erken. Na 'n soortgelyke konsert vir The Rockets, waar Jimmy teenwoordig was, het Bruce besluit om Jimmy se musieklewe te vier. Bruce vertel dat Jimmy hom na sy eerste optrede in Namibië geneem het, wat sy eie musiekloopbaan inspireer het. Hulle het die band BBC in Namakwaland gestig, waarin Jimmy ook opgetree het.


Victor beklemtoon dat gemeenskapsleiers soos Jimmy, wat groot vreugde en vermaak gebring het, dikwels nie die erkenning ontvang wat hulle verdien nie. Jimmy het baie goeie saksifoonspelers opgelei, insluitend Bobby Hendricks en Morgan Le Breton. Carol Van Der Ross, Jimmy se dogter, beskryf haar pa as 'n nederige, hardwerkende man met 'n groot hart en 'n goeie sin vir humor.


Die huldeblykaand beloof om 'n spoggeleentheid te wees met Jimmy se treffers en plaaslike kunstenaars wat optree. Gaste kan 'n heerlike ete geniet en daar sal 'n kontantkroeg wees. Kaartjies beloop R300 en kan by Jacques Cloete gekoop word. Die publiek word aangemoedig om donasies te maak om die aand se sukses te verseker. Skenkings kan by Capitec Savings: 2257178161 gemaak word. Die geleentheid begin om 17h00 en duur tot laat.

5 views0 comments

댓글


bottom of page