P.Coetzee
PORT NOLLOTH – Die 49-jarige Jacques Shoshola skep pragtige kunswerke, perfek vir 'n unieke Desembergeskenk of om jou voorkamer te verfraai. Sy skeppings vang die essensie van die kusdorpie vas en elke detail laat jou in verwondering.
Jacques hou homself vanaf die ouderdom van twaalf jaar besig met handewerk, of dit nou houtbootjies of bedkassies is – hy kan enigiets maak.
Jacques het met die teken van seeskulpies begin en later na skilderye oorgegaan. Sy liefde vir hout het hom inspireer om houtmuurhorlosies te maak en later ander unieke skeppings uit te kerf.
Jacques sê dat horlosies-maak vir hom glad nie ingewikkeld is nie en dat hy elke oomblik daarvan geniet. Sy passie het net gegroei.
Jacques maak enige iets op versoek en elke stuk is uniek. Hy maak ook 21ste en 60ste verjaarsdag sleutels, waar mense hul eie ontwerp kan kies. Hy skep ook uit hout verskillende vissoorte soos tuna, dolfyne, krewe, seeskilpaaie en vele meer. Die plaaslike gemeenskap ondersteun hom baie.
Jacques se houtwerk het ongelukkig 'n hartseer oorsprong. Hy was oorspronklik 'n vissersman, maar sy pa het in 1997 verdrink en sy liggaam is nooit gevind nie. Dit maak dit vir Jacques moeilik om op die see te wees.
Hy vind nou kalmte in sy houtwerk. Jacques het geen formele opleiding gehad nie; alles kom uit pure passie. Hy werk van sy huis by Snoekstraat 2985 af.
Kontak gerus sy vrou, Rezel Daniels, by 064 339 4369 vir enige navrae of bestellings. Donasies, in die vorm van materiaal, is natuurlik altyd welkom.
Weet jy nie wat om hierdie Kersfees vir jou geliefdes te gee nie? Kontak Jacques vir iets uniek en spesiaal.
Comments