P.Coetzee
SPRINGBOK – Hoërskool Namakwaland, tesame met die ATKV-jeugtak Gousbokkies, het Wêreld Geestesgesondheidsdag op 10 Oktober met 'n weeklange program gevier. Dié inisiatief het ten doel gehad om bewustheid oor geestesgesondheid te bevorder en leerders die geleentheid te bied om aan verskeie aktiwiteite deel te neem.
Die jeugtak, wat onlangs gestig is, het besluit om hul eie fondsinsamelings te loods, aangesien die ATKV reeds hul jaarprogram beplan het.
Geestesgesondheid is 'n belangrike onderwerp en daarom het die skool besluit om dit oor 'n week te vier, eerder as net een dag. Die Gousbokkies-lede het self die aktiwiteite vir elke dag beplan. Die program het ook die geleentheid gebied om saam met 'n nie-regeringsorganisasie, wat ondersteuning aan die gemeenskap bied, te werk.
Die leerders het die Bergsig Ondersteuningsgroep gekies en alle fondse wat gedurende die week ingesamel is, sal aan hierdie organisasie geskenk word.
Die week se program het die volgende ingesluit: Op Maandag 7 Oktober het leerders geel strikkies teen R5 gekoop, om positiwiteit uit te beeld. Dinsdag het leerders komplimente aan mekaar gegee. Woensdag is stilte en gebed in die Goue Klou geniet en gebedsversoeke ingedien. Donderdag het leerders iets oor hulself of hul omstandighede anoniem gedeel, deur dit op papier te skryf en in 'n boks te plaas. Die skool het nie die inligting gelees of gebruik nie, omdat die doel eerder was om die leerders die geleentheid te bied om hul emosies uit te druk. Juffrou Terblanche glo dat daar krag in die neerskryf van woorde, opgesluit lê.
Kinders het ook omgee-pakkies aan leerders wat ondersteuning nodig het, uitgedeel. Indien jy byvoorbeeld liefde, vrede of hoop benodig het, kon jy 'n Bybelversie wat jou deur die dag kon dra, neem. Die week is op Vrydag 11 Oktober met 'n informele kleredragdag, waar leerders geel klere teen R5 kon aantrek, afgesluit.
Volgens juffrou Terblanche was die deelname van die kinders uitstekend. Die Goue Klou was vol leerders wat om die beurt gebid en hul gebedsversoeke ingedien het. Die groep was aanvanklik bekommerd oor moontlike negatiewe reaksies, maar almal het deelgeneem en mekaar mooi ondersteun. Volgens haar verstaan kinders die belangrikheid van geestesgesondheid en hoe dit elkeen raak.
Comments