P.Coetzee
NOORD-KAAP – Op 24 September 2024 het die Noord-Kaapse Skaakfederasie 'n glansryke geleentheid, waar talle skaakspelers vir hul uitmuntende prestasies vereer is, aangebied. Onder die bestes, was 28 leerders wat provinsiale kleure ontvang het, 'n bewys van hul talent en toewyding.
Die Noord-Kaapse Skaakfederasie, 'n trotse lid van die Nasionale Raad vir Skaak Suid-Afrika, dien as die provinsiale beheerliggaam vir skaak in die Noord-Kaap. Volgens die president, Warren Ahjum, het die 28 leerders wat provinsiale kleure ontvang het, tussen 25 en 29 September 2024 na Gqeberha gereis om aan die nasionale skole toernooi deel te neem. Hierdie toernooi is slegs vir die topspelers in die Noord-Kaap, wat op grond van hul prestasies tydens die Noord-Kaapse Geslote Skaak-SA-gegradeerde toernooi, wat van 23 tot 25 Augustus 2024 in Kimberley plaasgevind het, gekies is.
Warren het ook genoem dat skaak in die algemeen 'n merkwaardige groei getoon het, met tot 100 spelers wat tydens 'n naweektoernooi onder een dak bymekaar kom. Hy het verder vertel dat ongeveer 99 leerders uitgenooi is om die federasie by die Mzanzi interprovinsiale toernooi, wat in Desember in Polokwane gehou sal word, te verteenwoordig.
Die leerders wat eerste staan en deurgaan na die Mzanzi interprovinsiale toernooi, is soos volg: 0.10 afdeling: Jacobs Kamohelo (Moja Skaakklub) en Vermeulen Johannes Bernar (Hopetown Skaakklub). 0.12 afdeling: Johanna Van Zyl (Hopetown Skaakklub) en Peters Roland (Crystal Palace Skaakklub). 0.14 afdeling: Nel Kayla (Hopetown Skaakklub) en Matthys Ayden (Kimberley Skaakklub). 0.16 afdeling: Daniels Peyton (Kimberley Skaakklub) en Lebitso Relebohile (Karpov Skaakklub). 0.18 afdeling: Ahjum Kristen (Kimberley Skaakklub) en Seleko Onalenna (Moja Skaakklub). 0.20 afdeling: Mebila Kutlo (SPU Skaakklub) en Mothata Omaatla (Kimberley Skaakklub).
Ons het ook twee uitblinkers van die Nababeep Skaakklub, naamlik Andrews Amber en Milfordt Millicent. Die Plattelander wens alle skaakspelers sterkte met die toernooi toe en glo dat hulle die Noord-Kaap en veral Namakwaland se name hoog sal hou.
Comments