P.Coetzee
AGGENEYS – Die splinternuwe rugbyklub het op 5 Oktober 2024 'n uiters suksesvolle gholfdag by die pragtige Black Mountain Gholf Klub aangebied. Aangesien hierdie klub nog in sy kinderskoene staan, is elke borgskap en fondsinsameling van kardinale belang.
Die klub, wat in Augustus vanjaar gestig is, se bestuur was in ekstase oor die geleentheid om hierdie fondsinsameling te reël. Die bestuurspan bestaan uit: me. Nicole Smith (Addisionele lid), mnr. Romeo Ukena (Voorsitter), me. Dihandra Farmer (Tesourier), mnr. Jeremia Vorster (Sekretaris) en mnr. Denver Friesley (Addisionele lid).
Die gholfdag is met trots deur Maxicap Loan Solutions geborg. Spelers kon teen 'n fooi van R200 vooraf inskryf en via WhatsApp registreer. Die gholfdag was die eerste van sy soort en deelnemers het die gewilde scramble-formaat gespeel.
Die klub is uiters trots op die spelers se prestasies en het almal, insluitend die borge, vir die sukses van die dag bedank.
Maxicap Loan Solutions het ook onlangs die span se rugbytruie geborg. Die klub wil graag hul opregte dank aan mnr. Anderson vir hierdie ruim bydrae oordra.
Vir Black Mountain RFC is die samewerking tussen die klub, borge en ander rolspelers van kritieke belang, aangesien die klub se voortbestaan hiervan afhang. Selfs die ondersteuners, spelers, ouers en afrigters speel 'n sleutelrol in die sukses van die klub, mits daar goeie samewerking is.
Die wenners van die dag, pa en seun, Jacques Basson en Heinrich Basson, het hardeware as pryse ontvang. Die prysuitdeling het na die scramble-spel plaasgevind. Alhoewel die kompetisie straf was, was dit 'n heerlike dag van saamkuier en die viering van die naderende somer. Die doel van die gholfdag was om 'n unieke fondsinsamelingsgeleentheid te skep.
Die klub sien met opgewondenheid na toekomstige fondsinsamelings uit en is vol vertroue dat, met goeie ondersteuning, dit 'n reuse sukses sal wees.
Bình luận