P.Coetzee
KAMIESBERG – Die Kamiesberg-gemeenskap het kragte saamgesnoer om geslagsgebaseerde geweld te beveg. Hulle het nie net die kwessie aangespreek nie, maar ook slagoffers aangemoedig om hul stemme te laat hoor en diegene wat hul lewens aan hierdie geweld verloor het, te herdenk.
Op 11 Oktober 2024 het die Kamiesberg Munisipaliteit hul heel eerste Geslagsgebaseerde Geweld Staptog gehou. Die staptog, in samewerking met die SAPD Kamieskroon, het ten doel gehad om bewusmaking te skep en die gemeenskap aan te moedig om saam te staan teen hierdie kwessie. Die deelnemers was in swart geklee en die verrigtinge het amptelik om 10:00 begin.
Voor die staptog is 'n program by die gemeenskapsaal in Kamieskroon, waar verskeie rolspelers, insluitend die plaaslike burgemeester, die geleentheid gehad het om te praat, gehou.
Ander belangrike rolspelers soos SASSA, IEC, Namakwa Nasionale Park, organisasies sonder winsbejag en die breër gemeenskap was ook teenwoordig. Die staptog het by die plaaslike polisiestasie geëindig, waar 'n memorandum wat aandui dat die polisiestasie strenger teen geslagsgebaseerde geweld moet optree, oorhandig is.
Volgens Barend Donkerman van die Kamiesberg Munisipaliteit, sal soortgelyke staptogte ook na ander polisiestasies soos Hondeklipbaai en Garies geneem word. Die staptogte vorm deel van die opbou na die 16 dae van aktivisme program wat die munisipaliteit in Desember 2024 gaan loods. Die munisipaliteit herdenk jaarliks Wêreld Vigsdag saam met die 16 dae van aktivisme, en dit is ook waar die burgemeester sy Kersboodskap sal oordra.
Statistieke van PLAN International toon dat byna 'n derde (27%) van vroue tussen 15 en 49 wêreldwyd, wat al in 'n romantiese verhouding verkeer het, geweld deur hul maat ervaar, hetsy seksuele of fisiese geweld. Wees deel van die oplossing en meld geweld teen vroue en kinders aan.
Comments