P.Coetzee
KIMBERLEY – Die sterre het op die glinsterende rooitapyt neergedaal toe die talentvolle Eric Kok sy rooitapyt premier van Boeta Kom Huistoe by die William Humphrey Kunsgalery (tydens die Filmfees in Rustenburg) op 25 Oktober 2024, gehou het. Hierdie stralende geleentheid het rolprentliefhebbers, plaaslike media en prominente figure van die Noord-Kaapse kunsgemeenskap vir 'n aand van verfynde vermaak en bewondering, saamgetrek.
Boeta Kom Huistoe, 'n kragtige produksie deur Kok Media, vertel 'n diep Suid-Afrikaanse verhaal vol emosie en lewenswaarhede. Eric Kok, die dinamiese vervaardiger en regisseur, het reeds aan die begin van die projek sy verwondering oor die sukses van die film uitgespreek. Die aangrypende verhaal, wat oor werkloosheid, gesinsbande, veerkragtigheid en hoop te midde van ekonomiese uitdagings handel, het die gehoor diep geraak.
“Wat my hart regtig warm gemaak het, was die feit dat die gehoor op 'n ware reis saam met Steven se storie gegaan het. Hulle het gelag, hulle het hulle asem tydens die aksie-tonele opgehou en een toneel het almal in skok gelaat. By die meer emosionele gedeeltes was daar 'n byna tasbare stilte soos almal gefokus het. As 'n skrywer is dit die beste gevoel wanneer mense regtig aanklank by die storie vind en wanneer hulle reageer soos jy gehoop het,” vertel Eric.
Eric het tydens die toekenningsaand die toekenning vir Beste Regisseur vir sy werk aan Boeta Kom Huistoe ontvang. Die film het tussen 300 ander films uitgeblink, 'n indrukwekkende prestasie wat die begin van 'n volwaardige feestoer wat tot in 2025 sal strek, merk.
Die indrukwekkende rolverdeling sluit in: Alister Vezasie as Steven Solomons, Rosemarie Sparks as Maraai, Doshé Africa as Nay-Nay, Merylin Mongale as Yvonne, Phila Mosenki as Jackpot, Kingsley Kok as Stukkie, en die jongste akteur, Caleb Kok, as baba Ethan. Die temamusiek is deur die plaaslike rymkletser, Bronwen Van Neel (White Shado), geskep.
Kok Media wil graag hul opregte dank aan die Nasionale Film- en Video Stigting, William Humphrey Kunsgalery, Sharifa Ferris, Amandus Kuyanie, Kaneezah Internet and Print Shop, African Media Entertainment Network en die gemeenskap van Roodepan, waar die film plaasvind, betuig.
Op 4 November is Boeta Kom Huistoe ook in Roodepan vertoon, met spesiale gaste soos die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Sport, Kuns en Kultuur, Jeug, Vroue en Persone met Gestremdhede, me. Nontobeko Vilakasie wat die vertoning bygewoon het. Die geleentheid is moontlik gemaak deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, Kok Media en die Progressive Arts Network.
Comments