P.Coetzee
AGGENEYS – Wanneer jy Dunasha Grobler se sketse sien, is dit duidelik dat sy nie baie woorde nodig het om haar talent te kommunikeer nie. Haar werk spreek vanself. Dit was 'n besonder gedetailleerde skets van 'n ouma wat my laat besluit het om die telefoon op te tel en met haar te gesels. Dunasha, oorspronklik van Phalaborwa, het in 2017 saam met haar familie na Aggeneys verhuis. Sy vertel dat sy haar hele lewe lank al teken, maar eers in 2018 werklik groot belangstelling daarin gevind het.
Nou in matriek, beskou Dunasha haar kuns as 'n stokperdjie waarmee sy ekstra sakgeld kan verdien. Sy werk met verskeie mediums, insluitend pastelle, verf, houtskool en potloodsketse, hoewel sy veral daarvan hou om met houtskool te werk, omdat dit haar toelaat om meer detail in te sluit. Dunasha skep portrette en landskappe, en een van haar trotsste skeppings is 'n skildery van die landskap so ongeveer 20 km buite Aggeneys.
Dunasha het al aan Eisteddfod deelgeneem en Cum Laude vir haar tekening "Girl with the Pearl Earring" ontvang. Nog 'n kunswerk van haar het ook goud verwerf. Sy het reeds talle skilderye en sketse aan plaaslike mense verkoop, insluitend 'n landskap wat met olieverf gedoen is en een wat deur 'n bekende kunstenaar geïnspireer is. Haar inspirasie kom van haar omgewing, emosies en die skoonheid wat sy in landskappe en mense vind.
Sy noem ook dat haar tannie haar grootste inspirasie is. Haar tannie het pragtig geskilder totdat 'n ongeluk haar vermoë beperk het. Dunasha skilder omdat sy kan en beskou dit as 'n geskenk wat sy gekoester het. "As ek kyk na my tannie, wil ek soveel moontlik van my talent benut, want ek kan dit enige tyd verloor," sê sy. Na matriek wil sy graag Veeartsenykunde studeer aangesien sy ook 'n groot liefde vir diere het, maar sy sal dit natuurlik ook oorweeg om kuns te studeer.
Vir bestellings van haar pragtige kunswerke, kontak Dunasha by 074 751 4405.
Comments