top of page

Empower
Growth

plattelander

BEKENDSTELLING VAN GOLDEN GIRL-BOEK IN UPINGTON


P.Coetzee

UPINGTON – Op 24 Oktober 2024 het die Piet Thole Gemeenskapsaal in Rosedale, Upington, met die amptelike bekendstelling van die boek Golden Girl, wat die lewe van die ikoniese dr. Katrina Esau vier, geskitter. Dié gebeurtenis is 'n mylpaal in die geskiedenis van die Noord-Kaap.


Golden Girl is 'n kinderboek wat die voortbestaan van die N/uu-taal beklemtoon. Dit sluit by die Noord-Kaapse regering se verbintenis om alle bedreigde tale in die provinsie te bewaar, aan. Die boek is ook 'n huldeblyk aan die onskatbare werk van dr. Katrina Esau.


Die talentvolle Noord-Kaapse skrywer, me. Lorato Trok, het die boek geskryf. Die bekendstelling is deur die samewerking van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, asook haar uitgewer, moontlik gemaak. Die borge van hierdie spesiale geleentheid sluit in: die Nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur, die Noord-Kaapse Departement van Sport, Kuns en Kultuur, die Nasionale Erfenisraad en Biblionet.


Die bekendstelling is deur verskeie prominente figure, insluitend die programdirekteur, die uitvoerende burgemeester van die ZFM-distriksmunisipaliteit, die uitvoerende burgemeester van die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit, raadslid Segede, die Speaker van die Dawid Kruiper-munisipaliteit Melanie Dodds, mnr. Boichoko, Moremi van PANSALB, me. Lorato Trok, dr. Katrina Esau, en amptenare van DSAC bygewoon.


Dr. Katrina Esau is die enigste vrou wat tans die N/uu-taal as huistaal praat. Sy het talle toekennings vir haar pogings om hierdie kosbare taal te bewaar en te bevorder, ontvang. Onder haar vele eerbewyse is die titel van Suid-Afrikaanse Lewende Menslike Legende in 2020 en 'n eredoktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad in Maart 2023.


Volgens me. Nontobeko Vilakazi, die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Sport, Kuns en Kultuur, Jeug, Vroue en Mense met Gestremdhede, dra die boek tot selfidentiteit by.


Sy is van mening dat wanneer 'n mens jou oorsprong ken, jy die toekoms met selfvertroue kan aanpak en beskou die boekbekendstelling as 'n klein, maar reuse-sprong in die reis om die verhaal van die N/uu-volk te vertel. “Dit is 'n reis oor die behoud van die erfenis van ons voorouers en voorvaders,” het sy gesê.

6 views0 comments

Comments


bottom of page