P.Coetzee
LOERIESFONTEIN – Die Loeriesfontein Kuit-kompetisie was, volgens Franchwa Batt, voorsitter van die Loeriesfontein Boere-unie, 'n skouspel van vet pret! Die opkoms was indrukwekkend en daar was heelwat pragtige kuite om te bewonder.
Op Vrydag, 18 Oktober 2024, het boere wat vroeg ingeskryf het, bymekaargekom om vir die pryse mee te ding. Die foto's wys duidelik dat elke deelnemer die dag terdeë geniet het. Mans en dames het in kort broeke opgedaag en met trots hul gespierde kuite ten toon gestel. Alhoewel hierdie die heel eerste kompetisie van sy soort was, was dit 'n reuse sukses!
Die Loeriesfontein Boere-unie het ook 'n junior-kategorie ingesluit. “Dames, mans en juniors het soos kapokhane op 'n werf vol henne, gepronk. Uiteindelik kon daar net een wenner in elke kategorie wees en die beoordelaars het hul hande vol gehad met die moeilike besluite,” het Franchwa gesê.
Lede van die Loeriesfontein Boere-unie het self as beoordelaars opgetree. Die wenners is as volg: In die dameskategorie het Alida Vlok se kuite die meeste uitgestaan; In die mans kategorie het Dawid Nel se kuite die kroon gedra en in die junior kategorie was Brand Nel die kampioen van die dag!
Franchwa wil graag die wenners gelukwens en elke borg wat 'n bydrae tot die dag gemaak het, hartlik bedank. Die borge wat tot die sukses van die dag bygedra het, sluit Imbuko Wines, Lapfontein Swepe en die Loeriesfontein Boere-unie in.
Die wenners van die kuit-kompetisie het nie net met trofeë onder die arm weggestap nie, maar ook met 'n boks wyn! Alhoewel almal bymekaargekom het vir 'n lekker samekoms en pret, was die dag ook bedoel om die boere vir hul harde werk te vereer. Hulle het tog nie verniet sulke mooi kuite nie!
Comments